Eksamenflaters - uit Lydia Hattingh se pen

 

Liewe Stoffie-aanhangers

‘n Nuwe kwartaal (dankie tog die laaste van 2010!)  met nuwe uitdagings lê voor.  Maar met soveel herinneringe wat ‘n mens koester. Tennis, rugby, netbal, hokkie, skyfskiet, skaak revue, toneel.  En die toetsreeks. Die laaste een is ietwat van ‘n rillerverhaal vir sommiges en dan glimlag-op-die-gesig vir andere. 

Daar is darem niks so interessant soos skoolstories nie.  En nou verwys ek na “regte, egte” stories (soos my vriendin op Springbok altyd sê).  Diè wat ‘n mens oor en oor kan vertel en dan uit jou maag oor kan lag.  Die ou volksliedjie “O, moedertaal, o soetste taal, jou het ek lief bo alles” het my laat besluit om my tema vir die laaste kwartaal “Afrikaans” te maak.

Die Namakwalanders vertel dat hulle net één taal kan praat en dit is Arikaans.  Hulle sê hulle praat net Engels uit selfverdediging.  En dit het ek met my eie ore gehoor toe my goeie ou vriend een aand op Port Nolloth toeriste uit Engeland hartlik welkom geheet het.  Ons het in ‘n klein restaurantjie gekuier toe die inkommers (lees: vreemdelinge wat nie in Namakwaland bly nie) daar opdaag. Ons kon nie help om te lê soos ons lag vir Neels se Engels nie.  Maar gelukkig het hy ‘n baie goeie selfbeeld en het gedink dat hy hom baie goed  van sy taak gewyt het.  So word daar vertel dat by ‘n sekere Afrikaanse skool in daardie geweste die kinders en onderwyseres se Engels so power was dat die Engelse vraestel maar in Afrikaans opgestel is.

Nou wil ek graag die “regte, egte” Stoffies se siklustoets-antwoorde deel.  Dit was vir my skreeusnaaks, veral toe die kinders hulle eie blapse herken en daaroor gelag het.  (Hier en daar het ek vorige vraestelle se koddige antwoorde ook ingesluit.)

IDIOME  (die korrekte antwoord in hakies):

Idiome wat rym:

Van die hand tot die mond …  (val die pap op die grond).   

- Van die hand tot die mond sê die hoender vir die hond.

Goed begin is … (half gewin).

-  Goed begin is nou te min.
-  Goed begin is skeef geëindig.
-  Goed begin is ‘n goeie einde.

Hoe kaler jonker … (hoe groter pronker).

-  Hoe kaler jonker is ‘n ou mens wat vir ‘n jong bokkie gaan.
-  Hoe kaler jonker hoe groter dronker.
-  Hoe kaler jonker hoe stouter in die donker.

Jy moet die koffie drink … (soos die kan hom skink).

-  Jy moet die koffie drink anders raak dit koud.
-  Jy moet die koffie drink terwyl dit nog warm is.
-  Jy moet die koffie drink as dit gemaak is om te skink.

Dit gebeur in die jaar nul … (as die hingste vul).

-  Dit gebeur in die jaar nul as die profete kul.
-  Dit gebeur in die jaar nul as hurkulus kom.
-  Dit gebeur in die jaar nul as die ape gul.
-  Dit gebeur in die jaar nul as ‘n hings babiekies (sic!) kry.
-  Dit gebeur in die jaar nul as die skape brul.

Woorde wek … (maar voorbeelde trek).

  • Woorde wek maar hy is gek.
  • Woorde wek maar harde werk trek.

 

Ek meneer en jy meneer, wie … (sal dan die wa moet smeer?)

-   Ek memeer en jy meneer en mevroue?
-   Ek meneer en jy meneer maar agter my rug vat jy my in die
    gesig.

Verduidelik die betekenis van die volgende idiome:

Kripvreter (Werk vir die staat.)

  • ‘n Baie honger mens.  (Nogal waar as jy daaraan dink.)

 

Hulle het hulle skapies bymekaar geja. (Hulle het getrou.)

  • Daar word groot probleme veroorsaak.  (Kan ook waar wees.)
  • Die mans het hulle vrouens bymekaar gekry en met hulle gepraat.

 

In die donker is alle katte grou.  (In die donker is alle meisies mooi.)

  • Als is lekker in die donker.

 

Die baard groei deur sy keel. (Sy stem breek.)

  • Hy krap waar hy nie moet nie.
  • Hy is ‘n baie vuil persoon.

 

Baie honde is ‘n haas se dood.  (‘n Moeilike taak word maklik afgehandel as almal saamwerk.)

  • As die veijand (sic!) meer as jy is gaan jy verloor.

 

Om agter die kap van die byl te kom. (Iets agterkom of te verstaan hoe dinge inmekaar steek.)

  • Om agter die storie se waareëinde (lees: ware einde) te kom.

(“Juffrou, ek het darem die deelteken onthou!”)

Benoude katte maak benoude spronge (Iemand in nood maak snaakse planne.)

  • As jy bang is hardloop jy vinnig weg.

 

Amasone  (Strydlustige vrou).

  • I (sic!) plek waar ‘n mens vakansie kan hou.

 

Die mantel na die wind draai.  (Met almal saamstem soos dit jou pas.)

  • Om suurstof te kry.

 

Hoë bome vang die meeste wind  (Mense met hoë aansien word dikwels gekritiseer.)

  • Lang mense word op gepik.

 

Voltooi die idioom:

So leeg soos … (‘n eierdop).

  • So leeg soos ‘n bankrekening.  (Ook waar, veral vir onderwysers.)

 

In die land van die blindes … (is eenoog koning).

  • In die land van die blindes kan daar nie nog dowes ook wees nie.

 

Nog eksamivlatirs

In ‘n vraag wie die meeste soen (veral die Franse soen) die volgende antwoord:
Dis altyd jong mense wat soen, as jy getroud is soen jy net HI en TATA.

Vredefortkoepel is ‘n astoriëde wat die aarde laat bewe soos ‘n klok wat lui.

“n Verkoue wat jou beet het word vergelyk met die voëlhare van ‘n dier. Amper soos die vangarms van ‘n seekat.

Die intensiewe vorm van taai (rateltaai) is:  jemtaai of gomtaai of rottangtaai of skenkeltaai.
“n Neurochirurg is ‘n murgdokter.
‘n Koperkapel is ‘n kerk met koper dele of dit is die son of dit is iemand met rooi hare.
‘n Kenner van voëls (ornitoloog) is ‘n voëlpertiloog.

Bogenoemde voorbeelde is ‘n bewys dat ons kinders nie dom is nie – hulle is eintlik baie oorspronklik, kreatief  en vindingryk.  Afrikaans is en sal altyd ‘n wonderlike taal bly. Woorde soos “slap tjips”, “lekker” en “askies” is so deel van Suid-Afrikaners as wat sneeu deel is van Europa.  En natuurlik kan ons Afrikaanse kinders baie beter Engels praat as wat Engelse kinders Afrikaans kan praat.  Behalwe soos ek natuurlik aan die begin genoem het van die Namakwalanders en hierby kan ek voeg die Weskussers en natuurlik die Vrystaters. 

By een so ‘n plaasskooltjie in die Vrystaat was daar ‘n juffrou wat vir die kinders in die plaasskooltjie Engels moes leer.  Sy het “tenses” gedoen en besluit om die plaaskinders se verwysingsraamwerk te gebruik.  Sy vra toe dat die kinders die volgende sin moet korrigeer:  “There is three cows outside.”  Hierdie arme kindertjies het nie ‘n idée gehad wat fout was met die sin nie en het lank na buite getuur.  Die juffrou raak toe later ongeduldig en dring aan op ‘n antwoord.  ‘n Seuntjie steek toe huiwerig sy hand op en antwoord: “Miss, one are a bull.”

Daar is natuurlk baie dialekte in Afrikaans en ek sluit af met die verskil tussen Standaardafrikaans en Griekwa-Afrikaans.  Ek hoop elkeen wat dit lees, vind dit net so oulik as wat dit vir my is – hulle beskrywing van Afrikaans is by verre die kostelikste wat ek nog gehoor het.

 

STANDAARDAFRIKAANS

 

GRIEKWA-AFRIKAANS

Spreuke van Salomo 17:1

Liewer ‘n stukkie droë brood met vrede daarby as ‘n huis vol kos met ‘n getwis daarby.

Spreke van Salemo 17:1

‘n stikkietjie heilige pap yte pot yt wil jy in vrede eet, sonner moelikeit, die sê ek nou vi jou, is baie beterder asse vleishys vol mettie twistelikheid

SPREUKE VAN SALOMO 17:16

Watter nut het dit as ‘n dwaas geld in die hand het om wysheid te koop en hy het nie verstand nie?

 

 

SPREKE VAN SALEMO 17:16

Dies wat onnooslik is en met gjeld innie sak loop om te oppie dorp vi hulle deetlikheit te gat koop, hou hulle slim, ma sonner ‘n goeie kop op jou lyf sal jy piere verniet vi anners se deetlikheid hoop

SPREUKE VAN SALOMO 19:25

As jy ‘n ligsinnige mens klap, leer die wat nog onervare is daaruit; as jy ‘n verstandige mens straf, word hy nog verstandiger.

SPREKE VAN SALEMO 19:25

Gjee jy nou virrie onnooslike ‘n klap, sal hieire jongetjies al vesigtigder klap, Marrie vestandige man wore net deetlikere elkere keer as jy vi hom gat slat

Spreuke van Salomo 21:17

Wie plesier voorop stel, word arm; wie lief is vir wyn en lekker kos, word nie ryk nie.

SPREKE VAN SALEMO 21:17

As jy net agterrie plesiere aan stryk, sal jy vi altyd sosse arm man lyk; as jy net vi soetwyn ennie vleisietjie soek, gat jy veniet virrie ryklikheit kyk

 
Groetnis tot volgende keer.

Lydia Hattingh

 


2010 Matriekuitslae
Oos-Gauteng Prestasie
............................................meer info...
.................................................................
Liefdadigheidsweek
Hoërskool Stoffberg beywer hom steeds om te voorsien in die nood van behoeftige gesinne...
............................................meer info...
 
Dissiplinêre komitee 2011

............................................meer info...
 
Geskiedenis van die skool
Hoërskool Stoffberg moes na die amalgamasie van 1976 nuwe skooldrag, ‘n skoolwapen en ‘n leuse kry.
............................................meer info...
 
Die skoolwapen
Die Hoërskool Stoffberg kry sy beslag op Dinsdag, 15 Oktober 1946, toe ons as Stoffberg Junior Hoërskool van die Laerskool Kommando afgestig het met ‘n leerdertal van 195.
............................................meer info...
 
Skoollied
............................................meer info...
 
Lag 'n Slag! ...........................................meer info...
................................................................

Nog Foto's
..........................................meer info...